Die Melktert Kommissie trap al oorspronklike spore oor die Afrikaanse musieklandskap sedert die vrystelling van hulle debuut album Volroom! Van die grondpad wat almal ken, draai ´n tweespoor-paadjie af deur velde wat die Voortrekkers misgekyk het. Hierdie groep van Jeffreysbaai vang hulle eie ervaringe, vrese en drome vas in hulle musiek.
Die tweede album Wonderwoorde , wat in Stellenbosch opgeneem is, is onlangs vrygestel by die 2006 KKNK. Die keer is die lirieke nog meer diepliggend en die emosie ook meer kompleks. Strydom kyk met groter insig na binne wanneer sy sê: "Fluister ek woorde in my emosietaal" en "gisteraand het jy jou lippe aan my siel afgevee". Tog raak DMK nooit swaar of swartgallig nie. Hulle is immers trots Suid-Afrikaans, jong mense wat die Land van die Son wil laat werk, met geen begeerte om van die werklikheid te ontsnap nie. Hul eerlikheid maak dat ouer mense net soveel aanklank vind by hul musiek as die jonges wie se taal hulle praat. Dit is hoorbaar op die nuwe album dat die groep tot ´n hegte eenheid gegroei het (source: vetsteun)
Sign in or sign up to post comments.